Nadat ek gehoor het ons volgende “blog” gaan oor die
gebruik van ‘n interaktiewe
witbord (IWB), het ek onmiddelik gedink aan die ouer generasie
onderwysers. Gedurende my skoolloopbaan het my skool die witborde begin toepas
en dit was omtrent ‘n aanpassing gewees vir die ouer generasie onderwysers van
my skool. Van hulle het dit goed benut, maar ander wou dit nie gebruik het nie,
hulle was te vas in hulle gewoontes. Ek het toe al besef dit kan vir jou as
onderwyser baie help, en ek sal ook daarvan wil gebruik maak eendag.
Die interaktiewe witbord
is ‘n groot skerm wat gekoppel is aan ‘n rekenaar. ‘n Projekter word gebruik om
die rekenaar se beeld op die witbord te projekteer. Wat die bord uniek maak is
dat jy as onderwyser die rekenaar kan beheer of gebruik deur met spesiale penne
of met jou vingers, te skryf op die witbord.
Hoekom maak ons nie meer
gebruik van die tradisionele maniere van onderwys nie (bv skryfborde)? Die rede
daarvoor is die groeiende gebruik van inligting- en kommunikasietegnologie in
die klaskamer en die wêreldwye toename in die gebruik van inligtingstegnologie
op alle terreine.
My vakgebied is
Lewenswetenskappe en die witbord sal verseker nuwe geleenthede en moontlikhede
vir my as Lewenswetenskappe-onderwyser na vore bring. Die interaktiewe witbord
hou baie voordele vir leer en onderrig in en die leerders word visueel en
perseptueel gestimuleer. Die voordele is te danke aan die verskillende
interaksies wat die leerders met die interaktiewe witbord het. Daar vind nou pedagogiese,
fisiese, konseptuele, tegniese en dialogiese interaksies plaas en dit sal help
om jou leerders se leervaardighede en onthouvermoë te verbeter.
Jy kan vinnig iets van die
internet aflaai en dit vir die leerders verduidelik, deur middel van prente en
byskrifte wat jy dadelik kan byvoeg. Deur gebruik te maak van die witbord kan
jy jou lesse beter oordra aan die leerders en meer interessant maak.
Die witborde bevat ‘n wye verskeidenheid funksies, wat jy as onderwyser kan
gebruik en daarom is die opleiding van die onderwysers van kardinale belang en daar
moet gereelde geleenthede vir opleiding geskep word.
Onderwysers moet ook eers
oor die basiese rekenaarvaardighede beskik voordat die interaktiewe witbord by
’n skool geïnstalleer word. Die effektiwiteit van die interaktiewe witbord en
hoe suksesvol dit in die onderrig gebruik word, sal grootliks deur die
ingesteldheid van die verbruiker daarvan bepaal word. As die finansies daar is
en die onderwysers bereidwillig is om gebruik te maak van die witborde, sal ek
dit aanbeveel, want dit hou net voordele in vir beide die onderwyser en
leerder.