Tuesday, 5 April 2016

Die potensiaal van die interaktiewe witbord in die onderwys

Nadat ek gehoor het ons volgende “blog” gaan oor die gebruik van ‘n interaktiewe witbord (IWB), het ek onmiddelik gedink aan die ouer generasie onderwysers. Gedurende my skoolloopbaan het my skool die witborde begin toepas en dit was omtrent ‘n aanpassing gewees vir die ouer generasie onderwysers van my skool. Van hulle het dit goed benut, maar ander wou dit nie gebruik het nie, hulle was te vas in hulle gewoontes. Ek het toe al besef dit kan vir jou as onderwyser baie help, en ek sal ook daarvan  wil gebruik maak eendag.

Die interaktiewe witbord is ‘n groot skerm wat gekoppel is aan ‘n rekenaar. ‘n Projekter word gebruik om die rekenaar se beeld op die witbord te projekteer. Wat die bord uniek maak is dat jy as onderwyser die rekenaar kan beheer of gebruik deur met spesiale penne of met jou vingers, te skryf op die witbord.

Hoekom maak ons nie meer gebruik van die tradisionele maniere van onderwys nie (bv skryfborde)? Die rede daarvoor is die groeiende gebruik van inligting- en kommunikasietegnologie in die klaskamer en die wêreldwye toename in die gebruik van inligtingstegnologie op alle terreine.

My vakgebied is Lewenswetenskappe en die witbord sal verseker nuwe geleenthede en moontlikhede vir my as Lewenswetenskappe-onderwyser na vore bring. Die interaktiewe witbord hou baie voordele vir leer en onderrig in en die leerders word visueel en perseptueel gestimuleer. Die voordele is te danke aan die verskillende interaksies wat die leerders met die interaktiewe witbord het. Daar vind nou pedagogiese, fisiese, konseptuele, tegniese en dialogiese interaksies plaas en dit sal help om jou leerders se leervaardighede en onthouvermoë te verbeter.

Jy kan vinnig iets van die internet aflaai en dit vir die leerders verduidelik, deur middel van prente en byskrifte wat jy dadelik kan byvoeg. Deur gebruik te maak van die witbord kan jy jou lesse beter oordra aan die leerders en meer interessant maak. Die witborde bevat ‘n wye verskeidenheid funksies, wat jy as onderwyser kan gebruik en daarom is die opleiding van die onderwysers van kardinale belang en daar moet gereelde geleenthede vir opleiding geskep word.

Onderwysers moet ook eers oor die basiese rekenaarvaardighede beskik voordat die interaktiewe witbord by ’n skool geïnstalleer word. Die effektiwiteit van die interaktiewe witbord en hoe suksesvol dit in die onderrig gebruik word, sal grootliks deur die ingesteldheid van die verbruiker daarvan bepaal word. As die finansies daar is en die onderwysers bereidwillig is om gebruik te maak van die witborde, sal ek dit aanbeveel, want dit hou net voordele in vir beide die onderwyser en leerder.



Tuesday, 15 March 2016

Deelname van leerders in klaskamer

‘n Paar jaar gelede toe ek nog ‘n skoolleerder was, was daar sekere klasse wat altyd vir my gevoel het die tyd staan stil.  Die klasse het altyd gevoel of dit verewig vat om verby te kom. Dan is daar weer ander klasse wat vinnig verby gevlieg het en dit het my laat wonder hoekom?
Een van die hoof redes hoekom dit so voel, is agv die onderwyser wat die klas aanbied. Die klasse wat meestal gevoel het of dit verby vlieg, is juis die klasse waar die deelname van die leerders (interaksie) meer teenwoordig was tydens die les. Die onderwyser het voorsien daar daar gereeld interaksie tussen leerders is en tussen leerders en onderwyser en dit veroorsaak dat die tyd gevlieg het.
Wanneer leerders voel die tyd vlieg tydens ‘n klas, dan kan jy as onnie tevrede voel oor jou les, want dit kan as ‘n indikasie gebruik word, dat jy ‘n goeie les aangebied het. Ek gaan so paar redes bespreek hoekom ek dink leerders moet deelneem in ‘n klaskamer of tydens ‘n les.
Eerstens om deelname van leerders te kry moet jy ‘n positiewe omgewing skep in jou klaskamer, sodat hulle nie voel hulle vra ooit ‘n ‘stupid’ vraag nie. Dat hulle nie afgebreek sal word nie, maar net kan leer as hulle vrae vra. Respekteer elke leerder en toon jy stel belang in elkeen. Dis maar net ‘n paar van vele maniere hoe jy leerders sal kan kry om deel te neem aan klasgesprekke en terugvoerings.
Een van die hoof redes hoekom deelname belangrik is, dit skep ‘n werks-omgewing in jou klaskamer wat leerders bemoedig om te leer en dit voorkom dat ‘n leerder jou klaskamer sal ontwrig. Een van die groot uitdagings wat onnies ervaar, is om disipline te handhaaf en die deelname van leerders gedurende klastye help om te verseker dat daar nie tyd is vir ‘n leerder om jou klas te ontwrig nie. As jy jou aktiwiteite aantreklik “engaging” hou, sal jy geen wangedrag ervaar tydens jou klastye nie.
As jy as onnie die heeltyd net praat voor in die klas, gaan leerders veral sukkel om op te let en dis sulke klasse wat voel of die tyd stil staan. Daarom help deelname om hulle weer te laat fokus, want dit help om ‘n ander persoon se stem te hoor of ‘n antwoord op ‘n vraag, sodat hulle weer kan fokus.
Goeie vrae kan hulle laat wonder en aan die dink kry, wat help om hulle kennis en denkwyses te verbeter. Deurdat hulle die vrae beantwoord kan jy as onnie sien hoe goed hulle die werk verstaan en kan jy hulle help met sekere gedeeltes wat hulle nie verstaan nie. 
Deur vrae te vra let die leerders op dat hulle gereeld moet terugvoering gee en dit kan hulle motiveer om voorbereid klas toe te kom. Deelname kan leerders se praatvaardighede verbeter, want hulle kry oefening om te praat voor ander leerders en dit help om hulle selfvertroue te verbeter.
Na al die bogenoemde redes, besef mens net hoe belangrik deelname in klastye is en dat dit meer positief vir beide onderwyser en leerder is. Dit sal help dat leerders hulle volle potensiaal kan bereik. Daarom moet jy as onderwyser elke dag probeer om jou leerders betrokke te kry en laat deelneem, sodat jy nooit hoef te sien dat leerders aanmekaar na die horlosie kyk nie.



Tuesday, 8 March 2016

Die potensiaal van "ICT" in die onderwys

Dis nou al my vierde ‘blog’ en dit laat my besef dat tyd nie stil staan nie en binnekort word ek Mnr Van Zyl genoem. Waar jy nou ‘n ou-man (senior) op kampus is, is jy binnekort weer ‘n junior onnie. Dan voel als weer onbekend. Dis ongelukkig die lewe, en Informasie en Kommunikasie Tegnologie (ICT) kan vir jou as onderwyser en leerders op verskillende maniere help.

Wat is “ICT”? Dit kan gedefiniëer word as enige kommunikasie of inligting toestel of “application”. Dit kan van ‘n radio, tv, selfoon, rekenaar tot ‘n sateliet sisteem wees.

Kan “ICT” skool-leerders help om hulle volle potensiaal te bereik? Ja ek dink so, want ons lewe in ‘n konstant ontwikkelende digitale wêreld en “ICT” sal ‘n impak op omtrent elke aspek van ons lewe hê – van werk tot sosialisering of van leer tot speel. Die digitale wêreld het die manier van hoe leerders kommunikeer met mekaar, leer en informasie in die hande kry, totaal en al verander. Die jong mense van vandag is meer ‘n “online” populasie en kry hulle inligting deur verskeie tegnologiese toestelle. Daarom sal ek sê kan “ICT” baie handig wees in vandag se onderwys sisteme, maar daar sal altyd uitdagings wees om dit suksesvol toe te pas.

Eerstens moet jy as onderwyser die lus en uithouvermoë hê om van die “ICT” literatuur ‘n sukses te maak. Nog ‘n paar uitdagings is dat die skool moet die nodige fondse tot hul beskikking hê, onderwysers moet goeie opvoeding ontvang oor hoe om gebruik te maak van die literatuur en baie geduld.

Wêreld wye navorsing toon aan dat “ICT” kan help om die leer vermoë van leerders te verbeter en help om onderrig metodes van onderwysers te verbeter. Leerders wat gebruik maak van “ICT”, se kennis, praktiese- en aanbieding vaardighede word verbeter. Dit het ‘n baie positiewe uitwerking in vakgebiede soos wiskunde en wetenskap getoon. Deur “ICT”, kan beelde (prente), maklik gebruik word, om die leerders se onthouvermoë te verbeter. Onderwysers kan moeilike instruksies maklik verduidelik deur gebruik te maak van “ICT”. Onderwysers kan interaksie maklik skep en die lesse meer aanloklik maak, wat sal lei tot verbeterde aandag (konsentrasie) van die leerders.

Die “ICT” literatuur kan dalk net die regte medisyne wees vir minder bevoorregte skoolleerders, wat swak presteer. Die leerders het nie die voorreg om gereeld in aanraking te kom met tegnologiese toestelle nie, en as hulle die geleentheid kan kry om onderrig te ontvang met tegnologiese toestelle (ICT) kan dit hulle motiveer tot hoër hoogtes. Dit sal die leerproses meer interessant maak en hulle sal aanmekaar wil terug skool toe kom. “ICT” bevorder die leerders se kreatiewe denke en help dat hulle gouer onafhanklikheid sal bereik. Daarom kan “ICT” jou lewe as onderwyser vergemaklik, want die leerders word uitgedaag om kreatief uit die boks te dink en hulle konsentrasie sal beter wees, want hulle is al so gewoond aan die digitale wêreld, en sal daarvan hou om ‘n digitale les te ontvang.

Ted Sizer sê die volgende: “Inspiration, hunger: these are the forces that drive good schools. The best we educational planners can do is create the most likely conditions for them to flourish and then get out of their way.” So ons as onnies moet die honger kweek en inspirasie wees vir die leerders, sodat hulle kan presteer en deur “ICT” kan die doel makliker bereik word.

Tuesday, 1 March 2016

Kan tegnologie wetenskaplike onderwysers se lewe vergemaklik?

Baie onderwysers is gestremd as dit by tegnologie kom, of dink die leerders weet alklaar te veel van al die sosiale media, en dat hulle hulself in die verleentheid gaan stel. Sosiale media (tegnologie) kan 'n uitdaging wees, maar jy kan dit vinnig onder die knie kry. As die wil daar is, is enigeiets moontlik. 

So my vraag is, kan wetenskaplike onderwysers tegnologie produktief gebruik? Ek dink hulle kan en hier is 'n paar redes hoekom ek so dink:

Eerstens, vir baie onderwysers voel dit onveilig om gebruik te maak van sosiale media, want miskien uit ervaring uit, weet hulle wat gesê word op die media en hoe afbrekend dit kan wees, maar deesdae is daar nuwe maniere en bronne wat nie 'n gevaar inhou nie. Een van die hulpmiddels wat die lewe vir beide die onderwyser en leerders sal vergemaklik is "Remind". Dit is 'n baie nuttige hulpmiddel vir onderwysers om te kommunikeer met leerders deur selfone. Dit is 'n baie betroubare hulpmiddel, want die onderwyser gebruik dit as 'n een-rigting kommunikasie met die leerders. Sy/hy kan dan die leerders herhinner aan huiswerk, opdragte of toetse en daar sal geen negatiewe goed kan plaasvind nie. Aangesien my leergebiede Natuurwetenskappe en Lewenswetenskappe is sal “Remind” baie handig kom, bv. iets wat ek vergeet het om in die klas te noem, deur te gee of as hulle iets moet saam bring vir 'n eksperiment ens.

Die volgende tegnologiese hulpmiddel wat die lewe vir die wetenskaplike onderwyser baie kan help, is die "Student response (Clickers)". Van ons studente het al daarmee kennis gemaak. Dit is ‘n baie handige hulpmiddel om vinnig agter te kom, wat die studente weet van die werk. Jy kan nie onderrig gee, as jy nie weet wat die leerders se voorkennis is nie. Deur die hulpmiddel kan jy dit vinnig toets, deur vinnig ‘n paar vrae op te stel. Nadat jy werk behandel het, kan jy ook vrae vra op die sisteem en die leerders beantwoord dit sommer dadelik op hulle selfone. Dan kan jy presies sien wie opgelet het en of hulle die werk verstaan.

Twitter en Instagram is baie nuttige hulpmiddels, wat jy as onderwyser kan gebruik om met jou leerders te kommunikeer. Jy as onderwyser kan ‘links’ op twitter deel wat handel oor sekere werk, en die leerders wat nog nie die werk verstaan nie, kan dit dan gebruik om duidelikheid te kry. Twitter kan ‘n hulpmiddel wees waar leerders maklik vrae kan vra oor iets wat hulle nie verstaan nie en dan kan jy as onderwyser daarop reageer.

Hierdie bogenoemde tegnologiese hulpmiddels kan die lewe van ‘n wetenskaplike onderwyser baie help, om sy/haar werk te vergemaklik, as hy/sy net bereidwillig sal wees om gebruik te maak van die hulpmiddels. As dit nie uitwerk nie, kan dit net verwyder word en weer ander metodes vind, om te gebruik. Jy as onderwyser het niks om te verloor nie. Dit mag dalk ‘n groot sukses verhaal wees en die leerders se punte verhoog, want dit is tog na wat jy as onderwyser en leerder streef om te doen.

Tuesday, 23 February 2016

Kan digitale pedagogie orals produktief toegepas word?

Kan digitale pedagogie (klem op die tegnologiese aspek), in alle skole produktief gebruik word? Brian Croxall en Adeline Koh definiëer digitale pedagogie as volg; dis elektroniese elemente/toestelle wat gebruik word om die ervaring van onderwys te verbeter of te verander. In die artikel word daar duidelik gefokus dat digitale pedagogie is opvoeding wat deur middel van die internet plaasvind en meer gebruik maak van tegnologie as onderrig styl.

Na afloop van die 'video' wat ons in die klas gekyk het, wat gegaan het oor opvoeding van leerders in 'n minderbevoorregte skool, wat finansieël swaar kry, het ek besef dat digitale pedagogie nie produktief by hierdie skool toegepas kan word nie. Hulle het nie die finansies om die toestelle aan te koop nie. Die regering sal finansieël moet help en kyk dat dit reg toegepas sal word, om te verseker dat so 'n skool digitale pedagogie kan ervaar. Die skool se resultate is nie baie goed nie, dit kan dalk wees omdat hulle 'n gebrek aan tegnologie tydens hulle opvoeding het of oor die omstandighede waarin hulle, hulself bevind.

Die ander vraag is, word die gebrek aan tegnologie in sulke skole as verskoning gebruik hoekom die leerders nie kan presteer nie? As die regering nie finansiëel kan help nie, kan die skole nie ander oplossings maak deur lokale beskikbaar te stel vir na-ure studies of rekenaar lokale op te rig nie, sodat elke leerder kan gebruik maak van die internet om te studeer.

Word daar nie al hoe meer 'n wanindruk geskep, dat tegnologie die alfa en omega is, as dit by opvoeding kom nie?

Ek dink goeie, hardwerkende onderwysers en skoolbestuurspanne kan maniere vind, om leerders te motiveer om te presteer, sonder die gebruik van moderne tegnologie. Die ideale omgewing sal seker nogsteeds wees waar daar 'n goeie balans tussen onderwyser en leerder (persoonlike aandag) en tegnologie en leerder is.

So dit hang af van die skool se omstandighede en of hulle digitale pedagogie produktief kan toepas. Daar waar 'n gebrek aan digitale pedagogie is, moet skole probeer uitreik en borge soek, as die regering nie finansiëel wil help nie. Skole moet net besef dis nie die einde van die wêreld as hulle nie die moderne tegnologie tot hulle beskikking het nie. Ons voorouers en ouers het goed reg gekom en gevorder in die samelewing sonder moderne tegnologiese onderrig. Dis gewoontlik die omstandighede wat die leerders se agteruitgang is en hulle skole kan probeer meer moeite doen om dit te probeer verander, deur na-ure klaskamers beskikbaar te stel vir leerders om te studeer ens.

Dishoekom kan daar nie orals digitale pedagogie toe gepas kan word nie, maar dit sal ideaal wees as elke skool die soort onderrigstyl kan toepas.

Wednesday, 17 February 2016

Tye het verander (Digital Pedagogy)

Tyd staan defnitief nie stil nie. Ons kan dit in die alle daagse lewe waarneem, waar daar aanmekaar nuwe tegnologiese toestelle en nuwe implimente op die mark verskyn. Nadat ek die artikel "Digital Pedagogy Unplugged" gelees het, wat geskryf is deur Paul Fyfe, het ek gewonder wat my oumagrootjie se mening sou gewees het, oor hoe onderwysers al hoe meer gebruik maak van tegnologie om hulle werk te vergemaklik. In haar dae het hulle skaars elektrisiteit gehad maar om terug te kom na die artikel, wat gaan oor verskillende menings en voorbeelde of tegnologie gebruik moet word as 'n onderrig metode.

Daar is voordele en nadele verbonde daaraan. Van die voordele is dat onderwysers viniger hulle lesse kan uitwerk deur bv 'n 'power point' gebruik te maak, as waar hulle dit moes uitgeskryf het. As onderwysers inligting soek oor 'n onderwerp kan dit baie vinnig opgespoor word. Die leerders let meer op en is meer entoesiaties as hulle na digitale prentjies en video's kan kyk, as om op 'n vaal papier te kyk. Die nadele verbonde aan tegnologie is, dit is nie vertroubaar altyd nie. As Eskom besluit hulle wil weer uniek wees met "load shedding", sit jy met 'n mond vol tande as jy nie 'n "back up" plan het nie. Nog 'n groot nadeel is jy bou nie goeie verhoudinge op met jou leerders nie en jy leer hulle anti-sosiale gedrag, waar hulle terug getrokke kan raak. Om meer in diepte gesprekke te voer oor 'n onderwerp en gedagtes te deel met mekaar, is partykeer baie meer voordelig, as om na 'n goeie powerpoint te kyk.

'n Gedeelte van die artikel raak aan die punt dat rekenaars en tegnologie binne 'n klaskamer verwyder moet word, sodat pedagogie beter uitgevoer sal word. Daar sal dan meer interaksie tussen leerders en opvoeders plaasvind, maar na klastye kan tegnologie gebruik word, om meer te leer oor onderwerpe en om vinnig jou kennis te verbreed. Op die manier sal pedagogie die pioriteit gedurende klastyd wees en nie die tegnologie nie, wat ek dink 'n baie goeie voorbeeld is van hoe dit gedoen moet word.

Tegnologie gaan al hoe meer 'n faktor word in ons lewens. Ons sal gereeld moet aanpas en gewillig wees vir verandering. Wat belangrik is, ons sal die regte balans moet kry tussen tegnologiese opvoeding en nie-tegnologiese opvoeding, sodat die leerders hulle volle potensiaal kan bereik.